|
Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Jou Geldsake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad | Huisgenoot | Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans |
|
|
|
|
![]()
Acid Alex deur Al Lovejoy. Zebra/Struik (sagteband, 394 pp.), R143. ISBN 1770070931 Jy ril. Teen die lemmetjiegroen agtergrond staan hy, arms gevou en kaalbolyf, soos 'n junkie Tarzan, met daggablare, hardehout en skates (polisieboeie) wat om hom fladder. Binne dié treffende omslag (geteken deur Joe Dog) lei Al Lovejoy sy demone koud in 394 bladsye gulhartige outobiografie. Lovejoy (42) het as weeskind grootgeword. Hy is onderwerp, van 'n vroeë ouderdom, aan fisieke en geestelike mishandeling deur diegene in wie se sorg hy geplaas is -- aanneem-ouers, seniors in koshuise en verbeteringskool, asook diegene in wie se geselskap hy beland het tydens rylopery as tiener. As gevangene in België (vir dwelmsmokkelary), skryf hy: "There (had been) so many cages (before). The first one was in Pretoria . . . Then there was Die Bult, followed by Kimberley, Grootfontein, Pretoria Central, Zonderwater, Voortrekkerhoogte DB, Rundu DB, Grootfontein, Stellenbosch, Pollsmoor, Victor Verster, Hofstraat in die Paarl, and now Vorst . . . ". Dié skrywer het voorwaar sy huiswerk gedoen. Maar dis nie net skoktaktiek nie. Lovejoy is 'n meesleurende verteller omdat hy subtiel afstand skep op aspekte van sy lewe en daarom die eerstehandse slaankrag van sy storie deurgaans ietwat verdun en problematiseer met iets soos selfkritiek, maar ook selfbegrip en selfvergifnis. Sinici sou wel plek-plek kon vra, " brag jy of kla jy?", maar veral teen die einde van die boek is dit duidelik dat pyn en bravade moeilik te skei is. Lovejoy is immers nie meer die dwelmslaaf, smokkelaar en dief wat hy hoofstukke van tevore was nie. Hy het sy afhanklikhede meestal oorkom. (By 'n onlangse bespreking van sy boek in Stellenbosch het Lovejoy gesê hy het sy alkohol-probleem van meer as 'n bottel whisky per dag ingeperk tot 'n halwe bottel Tassenberg. "I'm working on it," het hy geskerts.) Wat Acid Alex die randfiguur en eiesinnige manteldraaier tussen plakkers en ryk mense hard gemaak het, blyk veelvlakkige mishandeling te wees, asook sy eie misbruik van dwelms en drank. Maar dit was ook gewoon medemenslikheid met verstotenes. Wat 'n suur nasmaak laat, is hoeveel keer bestaande "versorgingstelsels" hom in die steek gelaat het. En natuurlik die leed wat hy aangedoen is juis in die kerk, waarheen hy gevlug het. Maar Lovejoy se lewensverhaal lê ewe veel in verhaal as in vertelvernuf. Hier by bladsy 340 word die leser byvoorbeeld by herhaling aangespreek en gevra hoe dit gaan ("howzit") - of dit (die lees van die boek, vermoedelik) darem help . . . Ook in Part I: Thumbsucker is dit opvallend dat hoofstukke speels geskryf is te midde van die swaarmoedige konteks waarbinne dit staan. Die woordspeling verwys enersyds na die losse omgang met die feite en andersyds na 'n erg getraumatiseerde seun wat tot laat in sy lewe sy duim gesuig het. Dit is gepas dat die boek in 'n soort taalkundige skadu staan - dis nie Afrikaans nie, maar dis ook ongeveer 432 woorde weg van enigsins verstaanbare Engels. Hierdie woorde is vervat in 'n woordelys agter in die boek. Die "agt-en-twintig" tot "zol" van Suid-Afrika se 12de taal, Skollie. Die leser sal dalk met die lees van Acid Alex twee taamlik nuwe Afrikaanse klokkies kan hoor lui, hoewel hulle in genre verwyder is: Kleinboer se Kontrei en Manie de Waal se trips. Soos trips, daai spaarsamig geskrewe mengsel tussen Trompie en Trainspotting , het Acid Alex 'n element van exposé, van Here-dis-waarmee-die-kinders-besig-is! Kontrei het - onder meer -aan dié wat wou kibbel, finaal bewys dat kuns onderlê kan word deur graffiti in bordele. Wat Kleinboer gedoen het vir bordele in Jo'burg, doen Al Lovejoy vir die tronke in Schengen-lande en ons kontrei. Le Roux Schoeman is 'n joernalis wat by Media24: Digitaal werk. lschoema@media24.com
© 2002 NEWS 24 - Kopiereg voorbehou |
| |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||