‘Emosioneel dreinerend’ Lewe van hel bekyk
sophia van taak
ACID
ALEX, deur Al Lovejoy. Zebra Press, Johannesburg, 2005. (Sagteband, 368
bladsye, ISBN 1770070931, R129,95.)
Dié boek is moontlik die
aangrypendste wat ek nog gelees het.
Acid Alex vertel die hartverskeurende
lewensverhaal van ’n weeskind, Alex Goulding, wat in die ou Rhodesië deur twee
uiters onbevoegde volwassenes aangeneem is. Hy’s daagliks verskree, afgeknou,
wreed aangerand en selfs soms met die dood gedreig. Alex se vormingsjare het hom
eintlik misvorm X hy móés aggressief en skelm word, bloot om te oorleef.
Acid
Alex is bar, reguit, onbeskof en blatant. Dit sal die boek ’n onreg aandoen om
dit tot ’n spesifieke genre te probeer beperk.
Dis outobiografies, maar dit
het ook die spanningselement van ’n speurverhaal en die emosionele stamina van
’n uitstekende roman. Dit verloop byna soos ’n dokumentêr waarin talle
instansies en individue onder die skrywer se skerp tong moet deurloop, en hy
raak plek-plek besonder kleurryk in die uitdrukking van sy misnoeë. Maar die
boek is ook openhartig, gevoelvol en aangrypend.
Rasse- en kultuurhaat en
vooropgestelde idees wat by wit kinders ingedril is gedurende die jare van wit
oorheersing, speel ’n groot rol in Lovejoy se verhaal. Sy herhaaldelike
teleurstelling deur vriende wat hom in die rug steek en die verrassende uitkoms
wat hy dan by die onwaarskynlikste karakters kry, neem hom op ’n skattejag deur
die hele spektrum van persoonlikheidstipes. Tydens al sy soektogte en
worstelings bly God boonop by hom spook.
Vroeg in sy laerskoolloopbaan trek
Alex se gesin na die Paarl toe, waar hy verdere verstoting en mishandeling
verduur. Sy ouers pos hom daarna ewe gerieflik hoërskoolkoshuis toe op
Worcester. As fyngeboude outjie loop hy deur onder die ouer seuns se
vuiste, en kort voor lank is hy maar weer ’n uitgeworpene. Hy wen die respek van
die ander randeiers deur kleinskaalse misdaad te pleeg. Kort voor lank is dit
egter nie meer net ’n speletjie nie, en staan Alex as graad 9-leerder aan die
hoof van ’n goed georganiseerde bende jeugmisdadigers. Hy beland ook daardie
jaar die eerste keer in die tronk X ’n plek wat hom vir die res van sy volwasse
lewe elke nou en dan sal huisves X en word nóg verder weggestuur. Dié keer na
Die Bult, ’n verbeteringskool op George.
Hierdie instansies het seker hul
meriete, maar in jare wat Alex ’n “Das” op Die Bult was, was daar soveel ware,
geharde jeugmisdadigers dat hy hom nooit werklik kon loswoel uit sy
delinkwent-bestaan nie.
Nes jy dink dit kan nie nog erger nie, pluk Lovejoy
die volgende haas uit sy hoed. Alex word betrokke by die bendes van die Kaapse
Vlakte, raak totaal bossies op die grens en vergryp hom in weermag-inrigtings
aan enige beskikbare vorm van dwelms.
As internasionale dwelmsmokkelaar
verdien hy duiseligwekkende bedrae geld, wat alles in sy eie verslawings
teruggeploeg word. Met elke konsentriese sirkel neem die gevare en euwels
waarmee Alex (uit eie keuse!) te doen kry, nóg skrikwekkender afmetings
aan.
Die haat en woede wat Lovejoy al lewenslank met hom saamdra, spring uit
die boek se blaaie en druk jou keel toe. Hy is in elke lewensfase ’n rits
godskreiende onregte aangedoen. Dit is ’n wonder dat ’n individu wat soveel
verstandelike, liggaamlike en emosionele mishandeling verduur het, nog in staat
is om met iets so fantasties soos dié vorendag te kom.
Dit is nie ’n maklike
boek om te lees nie X dit is emosioneel dreinerend. Tog getuig die styl ook van
’n goeie balans deurdat ligter, komiese insidente jou weer laat moed skep vir
die volgende hoofstuk. Ek wil egter waag om te sê dat, selfs as daar geen humor
in die storie was nie, ek dit steeds sou klaar lees. Dit is hoe aangrypend
Lovejoy se mallemeule-lewensverhaal is.
Acid Alex se trefkrag lê juis hierin:
Lovejoy draai nie doekies om nie. Hy probeer nie sy lewe as grootskaalse
misdadiger verromantiseer nie, maar hy onderbeklemtoon ook nie die gruweldade
waarmee hy gereeld te doen gekry het nie. Die boek is ’n eerlike uiteensetting
van presies hoe erg dwelms, drank, onwettige handel, geweld en ’n goeie skoot
sosiale wanaanpassing ’n mens, in sekere kringe, terselfdertyd tot afgodstatus
kan ophemel en ook tot in jou kern kan afbreek.
Dit is nie ’n mooi storie
nie, maar dit vra om vertel te word; dit kan nie anders nie.
. Sophia van
Taak is ’n subredakteur in Die Burger se produksiekantoor.