‘Emosioneel dreinerend’ Lewe van hel bekyk

sophia van taak
ACID ALEX, deur Al Love­joy. Zebra Press, Johannesburg, 2005. (Sagteband, 368 bladsye, ISBN 1770070931, R129,95.)

Dié boek is moontlik die aangrypendste wat ek nog gelees het.
Acid Alex vertel die hartverskeurende lewensverhaal van ’n weeskind, Alex Goulding, wat in die ou Rhodesië deur twee uiters onbevoegde volwassenes aangeneem is. Hy’s daagliks verskree, afgeknou, wreed aangerand en selfs soms met die dood gedreig. Alex se vormingsjare het hom eintlik misvorm X hy móés aggressief en skelm word, bloot om te oorleef.
Acid Alex is bar, reguit, onbeskof en blatant. Dit sal die boek ’n onreg aandoen om dit tot ’n spesifieke genre te probeer beperk.
Dis outobiografies, maar dit het ook die spanningselement van ’n speurverhaal en die emosionele stamina van ’n uitstekende roman. Dit verloop byna soos ’n dokumentêr waarin talle instansies en individue onder die skrywer se skerp tong moet deurloop, en hy raak plek-plek besonder kleurryk in die uitdrukking van sy misnoeë. Maar die boek is ook openhartig, gevoelvol en aangrypend.
Rasse- en kultuurhaat en vooropgestelde idees wat by wit kinders ingedril is gedurende die jare van wit oorheersing, speel ’n groot rol in Lovejoy se verhaal. Sy herhaaldelike teleurstelling deur vriende wat hom in die rug steek en die verrassende uitkoms wat hy dan by die onwaarskynlikste karakters kry, neem hom op ’n skattejag deur die hele spektrum van persoonlikheidstipes. Tydens al sy soektogte en worstelings bly God boonop by hom spook.
Vroeg in sy laerskoolloopbaan trek Alex se gesin na die Paarl toe, waar hy verdere verstoting en mishandeling verduur. Sy ouers pos hom daarna ewe gerieflik hoërskoolkoshuis toe op Worcester. As fyngeboude ou­tjie loop hy deur onder die ouer seuns se vuiste, en kort voor lank is hy maar weer ’n uitgeworpene. Hy wen die respek van die ander randeiers deur kleinskaalse misdaad te pleeg. Kort voor lank is dit egter nie meer net ’n speletjie nie, en staan Alex as graad 9-leerder aan die hoof van ’n goed georganiseerde bende jeugmisdadigers. Hy beland ook daardie jaar die eerste keer in die tronk X ’n plek wat hom vir die res van sy volwasse lewe elke nou en dan sal huisves X en word nóg verder weggestuur. Dié keer na Die Bult, ’n verbeteringskool op George.
Hierdie instansies het seker hul meriete, maar in jare wat Alex ’n “Das” op Die Bult was, was daar soveel ware, geharde jeugmisdadigers dat hy hom nooit werklik kon loswoel uit sy delinkwent-bestaan nie.
Nes jy dink dit kan nie nog erger nie, pluk Lovejoy die volgende haas uit sy hoed. Alex word betrokke by die bendes van die Kaapse Vlakte, raak totaal bossies op die grens en vergryp hom in weermag-inrigtings aan enige beskikbare vorm van dwelms.
As internasionale dwelmsmokkelaar verdien hy duiseligwekkende bedrae geld, wat alles in sy eie verslawings teruggeploeg word. Met elke konsentriese sirkel neem die gevare en euwels waarmee Alex (uit eie keuse!) te doen kry, nóg skrikwekkender afmetings aan.
Die haat en woede wat Lovejoy al lewenslank met hom saamdra, spring uit die boek se blaaie en druk jou keel toe. Hy is in elke lewensfase ’n rits godskreiende onregte aangedoen. Dit is ’n wonder dat ’n individu wat soveel verstandelike, liggaamlike en emosionele mishandeling verduur het, nog in staat is om met iets so fantasties soos dié vorendag te kom.
Dit is nie ’n maklike boek om te lees nie X dit is emosioneel dreinerend. Tog getuig die styl ook van ’n goeie balans deurdat ligter, komiese insidente jou weer laat moed skep vir die volgende hoofstuk. Ek wil egter waag om te sê dat, selfs as daar geen humor in die storie was nie, ek dit steeds sou klaar lees. Dit is hoe aangrypend Lovejoy se mallemeule-lewensverhaal is.
Acid Alex se trefkrag lê juis hierin: Lovejoy draai nie doekies om nie. Hy probeer nie sy lewe as grootskaalse misdadiger verromantiseer nie, maar hy onderbeklemtoon ook nie die gruweldade waarmee hy gereeld te doen gekry het nie. Die boek is ’n eerlike uiteensetting van presies hoe erg dwelms, drank, onwettige handel, geweld en ’n goeie skoot sosiale wanaanpassing ’n mens, in sekere kringe, terselfdertyd tot afgodstatus kan ophemel en ook tot in jou kern kan afbreek.
Dit is nie ’n mooi storie nie, maar dit vra om vertel te word; dit kan nie anders nie.
. Sophia van Taak is ’n sub­redakteur in Die Burger se produksiekantoor.